Horisontale lyne begin links en strek na regs
Om van links na regs te werk oefen die kind se ogies en handjie om later in hierdie patroon te lees en skryf. Dus oefen die kind om sistematies van links na regs te skandeer en rigtingsgerigtheid asook beweging kan ritmies opeenvolg en vloei.
Individuele nommertjies en lettertjies het ook dele wat in hierdie links-na-regs patroon geskryf word en help om fondasie te lê vir beplanning, koördinasie en ritmiese handskrif.
- Die e (e is vir emmer) begin met 'n reguit strepie van links na regs.
- Die f (f is vir fiets) en t (t is vir trein) se armpies word van links na regs ingeskryf.
- Hoofletters, A/E/F/G/H/I/J/L/T/Z, het almal of dakkies, armpies, voetjies wat van links na regs ingeskryf word.
Ek heg 4 blaaie om te druk en te oefen. Kyk mooi na die bladsy se uitleg en gesels oor al die prentjies:
- 'n Groen linkerhandjie (om jou handjie op te pas) is bo links in die hoek om die kind te begin oriënteer - ons begin altyd bo links te werk en dit is ook by regterhandiges die handjie wat die papier moet vashou op die tafel terwyl ons teken of skryf.
- 'n Rooi voetjie dui onder regs aan (r is vir rooi en r is vir regs).
- Daar is lyntjies om jou naam op te skryf - kyk op horisontaal 1 na Speelkamer se spasieëring en belyning en begin om van die heel begin af die kind te leer en te lei om sy naam korrek te vorm, spasieër en belyn.
- Elke horisontale lyntjie het 'n storietjie om oor te gesels en so taal te oefen. Onthou mamma voer in en die kind moet ook gesels en idees deel.
- Elke horisontale lyntjie begin bo op 'n groen kolletjie (ons trek weg by die groen verkeerslig) en stop op die rooi kolletjie (ons stop by die rooi verkeerslig).
- Ek hou daarvan om hierdie tipe werkblaaie teen die muur/spieël te plak sodat die kind teen die vertikaal werk, sodoende word akkurate informasie ten opsigte van bo/onder en links/regs verkry en so word meer vereistes aan die kind se lyfie gestel deur die skouertjies en armpies te lig, hou en oefen teen die inwerking van gravitasiekrag.
- Gebruik goeie kwaliteit skryfbehoeftes sodat duidelike lyne en goeie terugvoering die kind gemotiveerd hou. Ek stel altyd voor om die beste te koop wat jy kan bekostig.
- Varieer pen (dik witbordmerkers/koukies, kryte, pastelle, verfkwas/spons, bordkryt).
- Elke papier kan 'n paar maal oor verloop van 'n paar dae herhaal word om te oefen, te bemeester en vordering te monitor. Ek druk gewoonlik in kleur, lamineer en kan dan herhaaldelik gebruik met witbordmerkers/koukies.
Meeste van als, verseker sukses en geniet dit!