Visueel Motoriese Integrasie

Fyn beplanning en koördinasie tussen ogies en handjies voorsien akkurate visueel motoriese integrasie, wat eindprodukte soos veral teken, inkleur, skryf, knip, plak, ryg en bou insluit. 

Die ogies sien iets, maak sin daarvan en integreer die informasie met die motoriese sisteem, oftewel dit wat in die lyfie aangaan; soos postuur, rompstabiliteit/rotasie, dissosiasie, bilaterale arm gebruik en handfunksie.  Hier is ook diep wortels in liggaamsbewustheid, rigtingsgerigtheid en visuele persepsie. 

Gevolglik maak die kind sin van vorm, nommer, woordjies om sodoende hulself in die omgewing te handhaaf deur 'n akkurate, gekontroleerde en ritmiese motoriese respons te lewer.  

Gebruik hierdie kaartjies om te bepaal hoe jou kind se visueel motoriese integrasie funksioneer op 'n 2D vlak, spesifiek potlood-papier; begin by nommer 1 en las jul eie idees en patrone by.  Maak dit makliker deur eers self te teken (demonstrasie) sodat die kind leer deur nabootsing.  Maak dit nog makliker en oefen so deur met roomysstokkies of strooitjies te bou.  Teken met vingerverf, in skeerroom, sand of waaraan julle ookal kan dink.