Vertikale Lyne begin bo en strek reguit af.

Begin om deurlopend te oefen om vertikale lyne/strepe van bo na onder te trek. Dit vorm die fondasie en sluit later aan by die korrekte vorming van vorms, nommertjies en lettertjies. 

Om nommertjies en lettertjies te vorm volgens die korrekte patroon is belangrik vir beplanning, koördinasie en ritme van skryf. 

  • Die 1 (een) begin bo en strek reguit af...al die nommertjies begin eintlik iewers bo.  
  • Die l (l is vir leeu) begin bo en strek reguit af.
  • Die i (i is vir insekte) ook, hy het net 'n kolletjie wat na die tyd bo ingeskryf word.
  • Die j (j is vir jas) begin ook bo maar maak 'n stertjie onder, met 'n kolletjie wat na die tyd bo ingeskryf word.
  • Die k (k is vir kameelperd) begin ook bo, met 'n skuins strepie in en 'n skuins strepie uit.

Ek heg 4 blaaie om te druk en te oefen. Kyk mooi na die bladsy se uitleg en gesels oor al die prentjies: 

  • 'n Groen linkerhandjie (om jou handjie op te pas) is bo links in die hoek om die kind te begin oriënteer - ons begin altyd bo links te werk en dit is ook by regterhandiges die handjie wat die papier moet vashou op die tafel terwyl ons teken of skryf. 
  • Daar is lyntjies om jou naam op te skryf - kyk op vertikaal 1 na Speelkamer se spasieëring en belyning en begin om van die heel begin af die kind te leer en te lei om sy naam korrek te vorm, spasieër en belyn.
  • Elke vertikale lyntjie het 'n storietjie om oor te gesels en so taal te oefen. Onthou mamma voer in en die kind moet ook gesels en idees deel.
  • Elke vertikale lyntjie begin bo op 'n groen kolletjie (ons trek weg by die groen verkeerslig) en stop op die rooi kolletjie (ons stop by die rooi verkeerslig).
  • Ek hou daarvan om hierdie tipe werkblaaie teen die muur/spieël te plak sodat die kind teen die vertikaal werk, sodoende word akkurate informasie ten opsigte van bo/onder verkry en so word meer vereistes aan die kind se lyfie gestel deur die skouertjies en armpies te lig, hou en oefen teen die inwerking van gravitasiekrag.
  • Gebruik goeie kwaliteit skryfbehoeftes sodat duidelike lyne en goeie terugvoering die kind gemotiveerd hou. Ek stel altyd voor om die beste te koop wat jy kan bekostig. 
  • Varieer pen (dik witbordmerkers/koukies, kryte, pastelle, verfkwas/spons, bordkryt).
  • Elke papier kan 'n paar maal oor verloop van 'n paar dae herhaal word om te oefen, te bemeester en vordering te monitor. Ek druk gewoonlik in kleur, lamineer en kan dan herhaaldelik gebruik met witbordmerkers/koukies.

Meeste van als, verseker sukses en geniet dit!